Christelike Afrikaanse Privaatskool
Ons
Missie
Tsumeb Gimnasium is 'n Afrikaanse privaatskool in Namibië wat:
1. Christelike waardes en normes uitleef met respek as dryfveer;
2. 'n Unieke en tradisievaste karakter het;
3. Tegnologiese en toekomsgerigte onderrig en opvoeding aan elke leerling verskaf;
4. Voldoen aan realistiese verwagtinge van belangegroepe;
5. Vir elke leerling 'n veilige leeromgewing skep waarbinne hy/sy kan ontwikkel;
6. Gebalanseerde en gedissiplineerde volwasse jongmense vorm wat 'n positiewe bydrae tot die breë gemeenskap sal maak.
Om 'n trotse skool van uitnemendheid te wees waar elke kind op akademiese, sport en kulturele vlak geslyp word tot 'n eerbare volwassene.
Ons
Visie
Ons Waardes
Integriteit
Lojaliteit
Toewyding
Regverdigheid
Respek
Aanspreklikheid
Ons Geskiedenis
DIE BEGIN
Aan die einde van Augustus 1993 het 'n klein groepie ouers vergader en besluit dat die situasie in die huidige skole onaanvaarbaar is en het toe besluit dat 'n privaatskool in Januarie 1994 moet open en Andries Horn sal die skoolhoof wees en sy eggenote die sekretaresse.
Die gestigte Privaatskool moes:
'n Afrikaanse, Christelike Privaatskool wees
Die 3 predikante van die NG-kerk, Hervormde Kerk en
Gereformeerde kerk op die Skoolraad hê. (Later is 'n direksie deur die ouers verkies en het die reëling verval)
'n skool met 'n hoë standaard wees. Die kinders nie net leer nie, maar Christelik opvoed.
Aanvanklik is die katkisasie lokale van die NG-kerk gehuur en in Januarie 1994 is met 25 kinders (12 in Pre-Primêr, 13 vanaf Graad 1 - 4) en 5 personeellede begin. Twee onderwyseresse het verniet gewerk en een en die sekretaresse het 'n kwart salaris gekry.
Alhoewel ons met klein getalle begin het, het al die leerlinge geleentheid gehad om aan buitemuurse aktiwiteite deel te neem soos atletiek, netbal, rugby en gimnastiek. Al 13 leerlinge vanaf graad 1 - 4 het die skool verteenwoordig op ons eerste atletiek-byeenkoms te Omaruru. Die enigste 6 (later 7) dogters het die o/8 netbalspan gevorm en al die seuns het 'n TJOKKER A rugbyspan gevorm. Te danke aan ons buurskole nl. Grootfontein (Wilhelm Nortier), Otjiwarongo (Vooruit), Kombat, Otavi en Francis Galton het ons die geleenheid gehad om teen hulle te kon meeding.
Gou-gou is besef dat 'n koshuis benodig word. Die kantoorkompleks moes ook vergroot word. Dit het meegebring dat 3 huise aan die oorkant van die kerk aangekoop moes word. In hierdie tyd het sommige van ons ouers baie geld bestee en groot opofferings gemaak. Die Here se genade was genoeg. Hy was die lig op die pad. Deur Sy genade kon Andries Horn 'n pragtige, groeiende skool aan oorlede Wicus van Wyk oorgee op 30 April 1996.
Die skool se naam is deur Andries Horn voorgestel
Die skoollied is deur mev. Maritha du Plessis (nou Ayres) geskryf.
Die leuse is deur ds. LSD du Plessis voorgestel
Die skoolwapen is deur Johanna Horn ontwerp (eggenote van Andries Horn)
Die oorspronlike kleredrag is deur die personeel voorgestel.
"Soli deo Gloria" - beteken Aan God alleen al die eer
Teen die einde van 1994 het ons gesluit met 31 leerlinge, soos wat ouers al hoe meer vetroue gekry het in die skool.
Andries Horn se wens en bede vir Tsumeb Gimnasium was dat Tsumeb Gimnasium sal groei en as 'n sierraad in Tsumeb en Namibië sal staan. Dat die wil van die Here in hierdie skool gesoek sal word. Ja, dat elke kind, ouer, onderwyser en vriend die Here sal eer in elke daad in hierdie skool. God's ryke seën word hierdie pragtige skool toegebid.
Ons dank Mnr. Andries Horn - die Eerste Skoolhoof van Tsumeb Gimnasium
In 1998 is die OMEG Hoofkantoor(gebou in 1907) gekoop vir Tsumeb Gimnasium deur OMEG Properties. Die gebou huisves ons huidige kantore en die omliggende geboue is omskep in klaskamers en koshuise.
In 2024 vier Tsumeb Gimnasium 30 jaar van bestaan en kan ons spog met 300 leerders en uitnemende fasiliteite: 'n volwaardige primêre afdeling, tesame met 'n laer- en hoërskool.
'n Hoogs gekwalifiseerde onderwyserskorp met 32 personeellede, onder leiding van 'n uiters bekwame uitvoerende bestuurder en bestuurspan. Dit maak Gimmies die wenskool wat hy tans is.
Ons besonderse skoolgeboue is onberispelik toegerus. Die klaskamers is toegerus met lugversorging en oorhoofse projektors. Die skool het ook 'n Engelse afdeling van graad 1-7. Ons het ook 'n nuwe rekenaarsentrum met 22 rekenaars. Daar is ook 'n drukker in die lokaal vir enige drukwerk. Daar is 'n volledig toegeruste laboratorium op die perseel.
Die Gasvryheids lokaal het 8 werkbanke met genoeg spasie vir praktiese voorbereidings. Ons skoolsaal het genoeg sitplek vir 600 mense en fantastiese beligtings- en klanktoerusting wat geskik is vir enige geleentheid. Ons skoolsaal is toegerus met sy eie gasvryheidslokaal, 'n rekenaarsentrum en 'n galery met 'n balkon waar funksies gehou kan word.
Ons pre-primêre departement is volledig toegerus met 3 hoofdepartemente nl. Babaland (3 Maande - 3 jaar) Gr 00, Gr 0 en Gr R. Daar is aparte speelgronde vir pre-primêre, laer- en hoërskool.
Daar is 'n nuutgeboude H/S kafeteria, genaamd "Die Lekbak" met sitplek binne en buite, asook 'n laerskool snoepie, beter bekend as "die Voerkraal".
Ons sportgronde is ons trots met pragtige netbal-, hokkie- en rugby- en krieketvelde. Ons het 'n pragtige klubhuis by die sportgronde waar funksies gehou kan word en waar ouers en oud-leerlinge tyd saam kan spandeer as hulle die sportsoorte kom ondersteun. Die sportgronde het ook verblyfgeriewe wat gehuur kan word.
NOU
Skoollied
Bo in die noorde van ons land
ontwikkel ons verstand en hand
deur Sy genade en Heilige Gees
leer ons om Hom te dien en vrees
Met trots dra ons jou naam
Tsumeb Gimnasium
Met trots dra ons jou naam
Soli Deo Gloria
Ons werk en diens is soos dit hoort
Ons fondament is God se Woord
Ons toekoms is geloof en taal
Met God vir ons nooit sal ons faal
Met trots dra ons jou naam
Tsumeb Gimnasium
Met trots dra ons jou naam
Soli Deo Gloria