Missie----TG in perspektief----Erekode----Skoollied

Missie
Tsumeb Gimnasium streef daarna om in Namibie 'n Afrikaanse skool daar te stel wat,
1.1. 'n unieke en eiesoortige karakter het;
1.2. opvoedende onderrig in Afrikaans aan elke leerder verskaf;
1.3. gerugsteun word deur Christelike waardes en norme;
1.4. poog om te voldoen aan die redelike verwagtinge van sy belangegroepe;
1.5. vir elke leerder redelike geleenthede skep binne sy/haar vermoë;
1.6. gebalanseerde, gelukkige en volwasse jongmense vorm wat 'n positiewe bydrae tot die breë gemeenskap sal kan maak.

Terug na bo

Tsumeb Gimnasium in perspektief

By Tsumeb Gimnasium werk ons in die vaste vertroue dat die Here "die huis bou" en dat Hy ons lei. Daarom is ons nie bang of onseker nie, maar werk ons doelgerig daaraan om vir elke kind net die beste te bied. Ons streef daarna om 'n sentrum van uitnemendheid te bly. Ons het ook al geleer dat ons maar net geleenthede hoef te skep en te bied. Kinders gryp geleenthede spontaan aan en as u (en ons) weer sien, het hulle tot pragtige jong volwassenes gedy.

Tsumeb Gimnasium bied aan elke leerling net die beste geleenthede. Hier is iets vir almal maar ook iets vir elke individu. Gun u kind die geleentheid om gelukkig en in 'n atmosfeer van sukses te ontwikkel en te groei. By hierdie skool sal u en u kind juis dit vind en u kind sal gelukkig wees!

Omdat ons glo dat goeie, basiese onderwys en opvoeding die weg baan na 'n suksesvolle toekoms, streef ons daarna om 'n sentrum te skep waar ons mense en hulle kinders 'n tuiste sal vind. Juis daarom is die volgende vir ons van kardinale belang:
1. Hoë onderwysstandaarde
2. Christelik gefundeerde onderwys en opvoeding
3. Moedertaalonderrig sonder om ons amptelike taal af te skeep.
4. Effektiewe beroepsleiding aan en evaluering van elke leerling om 'n toekomsperspektief te skep.
5. Streng maar simpatieke dissipline en begeleiding van die kinders.

Terug na bo

Erekode

As leerling van Tsumeb Gimnasium onderneem ek om…

1. Al my talente sodanig aan te wend dat ek dié God mag eer, wat dit aan my toevertrou het, in die volle vertroue dat Hy beheer het oor elke mens, skool, volk en land.
2. Getrou te wees aan die skool waarin ek opgeneem is.
3. Respek te betoon aan die Hoof, Personeel en leerlinge waarmee ek in aanraking kom.
4. Respek af te dwing met my houding teenoor andere.
5. Vriendelik, hulpvaardig en opreg te wees teenoor almal.
6. Slegs my beste te lewer in elke aktiwiteit waarmee ek besig is, en waarin ek my skool verteenwoordig.
7. Erkenning te gee aan diegene wat hom/haar op 'n besondere wyse onderskei.
8. Vergewensgesind wees teenoor persone wat my te na gekom het.
9. Hulpvaardig te wees teenoor minderbevoorregtes en hulpbehoewendes.
10. Eerlik en opreg te wees teenoor my meerderes, gelykes en minderes.
11. My te weerhou van enigiets wat my medemens kan kwets, skaad of kleineer.
12. Getrou te wees teenoor die volk, kerk en gemeenskap waartoe ek geroep is, om sodoende 'n volwaardige burger te wordvan die land en volk waaraan ek behoort.
13. Om altyd te streef na reinheid ten opsigte van my persoon, werk en gedagtes, sodat ek deel kan voel van 'n opgevoede gemeenskap.

Terug na bo

Skoollied
Tsumeb Gimnasium

Bo in die Noorde van ons land
Ontwikkel ons verstand en hand
Deur Sy genade en Heil'ge Gees
Leer ons om Hom te dien en vrees

Met trots dra ons jou naam
Tsumeb Gimnasium
Met trots dra ons jou naam
Soli Deo Gloria

Ons werk en diens is soos dit hoort
Ons fondament is God se Woord
Ons toekoms ons geloof en taal
met God vir ons, nooit kan ons faal

Met trots dra ons jou naam
Tsumeb Gimnasium
Met trots dra ons jou naam
Soli Deo Gloria

Terug na bo