A. MERIETESTELSEL

 

1. Elke leerling ontvang by inskrywing of aan die begin van elke jaar 20 merietepunte.

2. Elke leerling kan punte verdien deur:

2.1 deurlopende betrokkenheid by sport, kultuur en ander aktiwiteite waarin die skool verteenwoordig word. (1 punt per aktiwiteit)

2.2 getroue, effektiewe leierskap op enige vlak bv. klaskaptein, sportspankaptein, leerlingraad, prefek, ens. Punte word toegken na afloop van die dienstermyn. (1 punt per aktiwiteit)

2.3 dienslewering of deur die skool se naam op ‘n besondere wyse uit te dra (1 punt) 

Hierdie punte word slegs toegeken indien ‘n leerling se gedrag, gesindheid en kwaliteit van betrokkenheid bo verdenking is.

3. Slegs die Hoof kan punte toevoeg of aftrek by enige leerling op grond van ‘n aanbeveling deur die betrokke onderwyser, organiseerder, afrigter of die dissiplinêre komitee.

4. Wanneer merietepunte afgetrek word, word die ouers van die betrokke leerling skriftelik in kennis gestel.

5. ‘n Kaartstelsel word gebruik wat op lêer in die Hoof se kantoor gehou word.

6. Alle oortredings word gekategoriseer as:

6.1 Minder ernstige oortredings

6.2 Ernstige oortredings

6.3 Onaanvaarbare oortredings

Merietepunte word soos volg afgetrek:

a. 1 punt by 6.1 per geval

b. 6 – 10 punte by 6.2 per geval. Die dissiplinêre komitee besluit en maak ‘n aanbeveling.

c. 11 – 15 punte by 6.3 per geval. Die dissiplinêre komitee besluit en maak ‘n aanbeveling.

7. Alle punte meer as 20 word vir ‘n leerling oorgedra na die volgende jaar.

8. Slegs leerlinge met meer as 20 punte kan in aanmerking kom vir verkiesing tot leier van die skool.

9. Indien ‘n leerling se punte daal tot 0, tree outomatiese skorsing uit die skool (en koshuis) in.

10. Indien ‘n leerling geskors is of was, kan so ‘n leerling nie verkies word tot die leerlingraad, of as ‘n prefek nie.

11. Merietepunte is nie oordraagbaar van die laerskool na die hoërskool nie.

12. Strafpunte is nie oordraagbaar na die volgende jaar nie.

 

 

B. KATEGORISERING VAN OORTREDINGS

 

INLEIDING

 

1. Herhaalde minder ernstige oortredings word outomaties ernstige oortredings: bv:

3 x pligsversuim – Wi = kantoor toe = -1 punt

3 x kantoor toe in een of meer vakke = ernstige oortreding = -6 tot -10 punte

 

2. ‘n Tweede ernstige oortreding lei daartoe dat die betrokke leerling voor die dissiplinêre komitee verskyn en ooreenkomstig sy/haar oortreding(s) gestraf word.

 

3. Onaanvaarbare oortredings lei tot onmiddelike voorlopige skorsing waarna die dissiplinêre komitee so gou as moontlik sit en ‘n gepaste straf oplê.

 

4. By skorsing kan ‘n leerling slegs hertoegelaat word indien die komitee sy/haar heraansoek oorweeg en aanvaar. Skorsing kan dus voorlopig, tydelik (1 dag tot ‘n langer termyn) of permanent wees.

 

5. ‘n Leerling kan appél aanteken en/of vertoë rig tot die dissiplinêre komitee.

 

 

OORTREDINGS:

 

Minder ernstige oortredings

Enige optrede, gedrag, versuim van enige skoolreël in daardie gevalle wat dit nie deel uitmaak van ernstige of onaanvaarbare oortredings nie. Hier word o.a. verwys na, maar nie beperk nie tot, pligsversuim, laatkommery, boeke vergeet, steurnis in klasse, onnodige swak prestasie, geringe voorkomsoortredings, traagheid om gesag te aanvaar veral t.o.v. die leerlingraad, gebruik van kragwoorde, handjieshouery, ens.

 

Ernstige oortredings

Arogante gedrag, disrespek teenoor volwassenes en ander gesag, vuil taal, versuim om direkte opdrag uit te voer, voorkomsoortredings soos kleur van hare, snaakse/vreemde haarstyle, ens. Afknouery van ander kinders, emosionele teistering, afpaardery, vryery, negatiewe houding en beïnvloeding van ander; karakterskending en intimidering, enige ander oortreding wat deur die skoolbestuur/Direksie geag kan word as ernstig bv. blatante leuens vertel, ens.

 

Onaanvaarbare oortredings

Ernstige wangedrag is, onder andere, maar nie beperk nie tot, die volgende:

die gebruik van, of in besit wees van, of onder die invloed wees van enige afhanklikheidsvormende middel, insluitende maar nie beperk nie tot alkoholiese drank (insluitende bier en cider), cannabis of enige sigarette of tabak;

·die gebruik van, of in besit wees van, ‘n gevaarlike wapen;

die verspreiding van, of in besit wees van, pornografie in enige vorm;

·die pleeg van bedrog of diefstal of enige ander handeling waarvan oneerlikheid ‘n element is;

die besit van gesteelde goedere wetend dat dit gesteel is;

·vandalisme of saakbeskadiging in enige vorm;

· aanranding of die gebruik van geweld;

· afwesigheid sonder verlof of wettige verskoning van die skool, of van enige skoolperiode of skoolfunksie waarvan bywoning verpligtend is;

kru taalgebruik teenoor andere wat gekoppel kan word aan rassisme;

enige ernstige oortreding wat gereeld voorkom;

enige optrede wat die goeie naam van die skool in oneer bring;

·enige ander gedrag wat na die oordeel van die Direksie tot skorsing of uitsetting mag lei;

die versuim om voor die Dissiplinêre komitee te verskyn indien daartoe opgeroep of ‘n versuim om op vrae van die aanklaer of Tugkomitee te antwoord indien daar nie ‘n gegronde rede vir die weiering is nie;

·die organisering van of deelname aan enige optrede wat nie vooraf met die Hoof uitgeklaar is nie en wat inbreuk kan maak op die akademiese, kulturele of sportaktiwiteite van ander leerders of op die funksionering van die skool;

die verstrek van wesenlik valse inligting oor die skool aan die pers of enige ander instansie of persoon;

enige poging gedurende ‘n klastoets of ‘n eksamen, om ‘n ander leerder te help of te probeer help, of van ‘n ander leerder hulp te verkry of te probeer verkry of uit enige geskrif inligting of hulp te verkry of te prober verkry, behalwe ‘n afskrif waarvan die gebruik deur die opsiener of die betrokke onderwyser uitdruklik toegestaan is;

die oorneem van enige skriftelike werkstuk, wat vir beoordeling aan ‘n onderwyser ingelewer word, van wesenlik onveranderd die geheel of wesenlik gedeeltes uit die werkstuk van ‘n ander leerder of ‘n ander geskrif sonder erkenning van sy/haar bron en die omvang van sy/haar oorname. Normaalweg word vereis dat ‘n werkstuk ten opsigte van voorbereiding sowel as formulering die selfstandige werk van ‘n leerder moet wees. Samewerking tussen leerders by die voorbereiding van werkstukke is egter toelaatbaar en mag selfs wenslik wees, tensy die onderwyser dit vooraf uitdruklik verbied. Onder alle omstandighede moet die formulering van ‘n werkstuk egter die selfstandige werk van elke leerder wees;

·hulpverlening aan ‘n ander leerder om ‘n oortreding te begaan;

·die pleeg van enige handeling of versuim wat in ‘n geregshof strafregtelik beregbaar is;

toegang verkry deur die ongeoorloofde gebruik van rekenaars tot, of poog om toegang te verkry tot, die skool se datalêers waartoe hy/sy nie toegang behoort te hê nie.

 

 

C. DISSIPLINêRE KOMITEES

 

Minder ernstige oortredings:

Hoof en betrokke onderwyser/prefek/leerlingraad of ander gesagdraer.

 

Ernstige oortredings:

Hoof, betrokke onderwyser, Voorsitter en Ondervoorsitter van die Direksie. Die ondervoorsitter kan vervang word met enige ander beskikbare Direksielid.

 

Onaanvaarbare oortredings:

Hoof en betrokke onderwyser (indien van toepassing) asook drie lede van die Direksie:

Voorsitter

Ondervoorsitter

Enige ander Direksielid.

 

 

D. PROSEDURE

 

Minder ernstige oortredings:

1. Die Hoof hanteer die leerling saam met die betrokke onderwyser(es) en laat weet die ouers van die situasie.

2.Merietepunte word afgtrek soos voorgeskryf.

 

Ernstige oortredings:

1. Die Hoof ondersoek die saak en vra o.a. dat die berrokke leerling ‘n kort verslag sal skryf. 

2. Indien die leerling skuldig blyk te wees, word ‘n afspraak gemaak by die dissiplinêre komitee.

3. Hierdie komitee sit so spoedig moontlik en bepaal die straf indien van toepassing.

4. Ouers word skriftelik in kennis gestel.

 

Onaanvaarbare oortredings:

1. Die betrokke leerling skryf onmiddelik ‘n volledige verslag oor die gebeure.

2. Die Hoof bepaal/probeer bepaal of die leerlding skuldig is.

3. Indien wel, word die leerling onmiddelik voorlopig verdere bywoning van die skool ontsê.

4.Die dissiplinêre komitee word so spoedig moontlik byeengeroep om die saak verder te hanteer, die betrokke leerling te woord staan en die finale straf bepaal.

5. Ouers word skriftelik in kennis gestel.

 

 

E. SLOTSOM

 

Met die eerste oogopslag lyk hierdie nuwe toepassing uiters streng en selfs onredelik. Hou in gedagte dat leerlinge (kinders) juis oortree en kanse waag as grense onduidelik is. As die oortreding duidelik aan ‘n straf gekoppel word, word hierdie grense duidelik en dwing dit die kind om te besin voordat daar besluit word. Ek het geen twyfel daaroor dat ons kinders presies weet wat reg en wat verkeerd is nie. Die koppel van ‘n bepaalde straf aan ‘n oortreding skep die balans wat deur gesonde angs veroorsaak word. Die keuse word dus vir die kind makliker.

Ouers verwag van ons om die ander kinders te beskerm. Hierdie stelsel slaag myns insiens juis daarin. Kinders wat helde wil wees, kan dit op hulle eie en by die ouerhuis gaan doen. Op hierdie wyse gee ons ook die Primêre verantwoordelikheid terug vir die ouers.

Gedragskode