ATLETIEK PRESTASIES die afgelope jare lyk soos volg:

2007

* Pieter-Jan Scoonbee, Ane Hanekom, Jean-Mare Badenhorst, Chanique Ras en Mario Otto word uitgenooi na die Frankie Fredericks byeenkoms.
* Chanique neem ook deel aan die 0/17 ANOCA Youth Games in Lesotho.

2006

* By die Zonals behaal die 17 Gimmies laerskool atlete die volgende uitslae:
15 eerste plekke, 8 tweede plekke en 8 derde plekke.
* By die 2de Zone atletiek verbeter Pieter-Jan Schoonbee 2 Nasionale rekords en Chanique Ras verbeter 1 Nasionale rekord.
* Pietr-Jan en Ane Hanekom word verkies tot die COSASSA span en Pieter-Jan verbeter 'n Namibiese rekord. Die twee gaan ook Botswana toe vir die Internasionale Atletiek Byeenkoms.
* Marnarie Marais word opgeneem in die span wat aan die Zone 6 gaan deelneem .

Hardloop Aksie

2005


Tsumeb Gimnasium het die 2de meeste atlete in die Noorde A-span wat uit vyftig atlete bestaan.
Tydens die Nasionale byeenkomste behaal die 8 Gimmie-atlete ses eerste plekke, een tweede plek en vier derde plekke. Baie geluk aan PJ Schoonbee wat as die worpe atleet van die dag aangewys is. Die volgende vyf leerlinge word dan ook uitgenooi na die Frankie Fredericks Atletiekyeenkoms: PJ Schoonbee, Melanie Horn, Jean-Maré Badenhorst, Ané Hanekom en Marnarie Marais.
As kersie op die koek word Ané Hanekom en PJ Schoonbee ook vir die Nasionale Atletiekspan gekies.
Pieter-Jan Schoonbee behaal werklik hierdie jaar 'n hoogtepunt in sy atletiekloopbaan. By die Nasionale byeenkoms is hy aangewys as die beste o/17 atleet en behaal Goud in gewigstoot en silwer in diskus.
By die Frankie Fredericks neem hy 0/19 deel en behaal Silwer vir gewigstoot en Brons vir Diskus. Hierna het hy aan die Cosassa Zone 6 byeenkoms gaan deelneem vir Namibië. Vyf ander lande is verteenwoordig en PJ behaal Brons met gewigstoot (o/19) en 'n 5de plek met Discus (o/19)en verwerf Skole Nasionale kleure. Volgende was die Southern Youth byeenkoms waaraan 12 lande deelgeneem het en hier behaal hy 'n Silwer medalje vir gewigstoot: 15.55m en eindig 4de in Diskus. By die Senior Nasionale byeenkoms, waar drie lande deelgeneem het, skuif Pieter-Jan die Namibiese rekord op na 15.85m. Hy behaal Goud met gewigstoot, Silwer met hamergooi en Brons met Diskus - al hierdie items met senior apparaat terwyl hy eintlik nog as junior deelneem! Verwerf volle Nasionale Kleure. Verbeter die Nasionale rekord vir gewigstoot wat staan sedert 1988.

Ané Hanekom (16 jaar oud) behaal die volgende prestasies: 1ste plek by Nasionale byeenkoms,2de Plek by Frankie Fredericks, 2de plek by Woman Grand Prix. Neem deel aan COSSASA (0/19). Onderkaptein vir 0/19 by Junior Youth Championships in Pretoria.

2004

'n Skitterjaar vir Gimmie Atletiek!! Drie laerskoolatlete het tydens die Nasionale atletiekkampioenskappe op Oshakati werklik puik presteer.
Pierré Cronjé verwerf 'n bronsmedalje in verspring seuns o/11 en Nadine Moolman 'n silwermedalje ook vir verspring dogters o/11. Simoné van Huyssteen het die beste gevaar en die volgende toekennings ontvang: Goue medalje 75m hekkies dogters o/13, Goue medalje 200m hekkies dogters o/13, Goue medalje hoogspring dogters o/13 (nuwe rekord). Beste o/13 dogter, beste veldatleet en Victrix Lodorum.

Die ses Gimnasium leerlinge wat aan die Nasionale Kampioenskappe vir Hoërskoolleerlinge in Windhoek te gaan deelneem het, het selfs nog beter gevaar: O/15: Simoné van Huyssteen: 80mHekkies - silwer medalje, 200m Hekkies - silwer medalje en nuwe rekord, Ané Hanekom: Spiesgooi - goue medalje, Gewigstoot - silwer medalje. Pieter-Jan Schoonbee was egter die Hoërskool uitblinker gewees met sy 3 goue medaljes en 'n skitterende nuwe Namibiese gewigstoot rekord, wat 2m verder as die vorige rekord is, agter sy naam Diskus - goue medalje, Spiesgooi - goue medalje. O/17: Marnarie Marais: Gewigstoot - goue medalje. Isak van Tonder: 110m Hekkies - silwer medalje. Alwyn Ströh: Hoogspring - goue medalje. Ons is bitterlik trots op julle!! Dis seker die eerste keer in skole geskiedenis dat 9 atlete deelneem aan die Nasionale byeenkomste en met nege goue medaljes huistoe kom. Drie van hierdie ses atlete nl Marnarie Marais, Ané Hanekom en Isak van Tonder, is ook vervolgens gekies vir die Namibiese span, ongelukkig val Isak uit op grond van sy Suid-Afrikaanse paspoort. Marnarie Marais en Ané Hanekom gaan neem deel aan die o/21 Jeugspele en die sone 6-byeenkoms, Marnarie het onderskeidelik 3e en 4e plek in gewigstoot behaal.

2003

Uiteindelik - ons eindig 3de van 16 skole in die Noorde Atletiekliga. Voorwaar 'n puik prestasie deur ons atletiekspan. Ongelukkig maak ernstige beserings dat puik atlete soos Andrea Hanekom (100m Hekkies) nie tot die Nasionale span verkies kan word nie maar nieteenstaande hierdie feit bring ons 8 atlete wat na die Nasionale byeenkoms deurgedring het 8 medaljes terug. Skitterende atlete bv Ané Hanekom (Spiesgooi), Pieter-Jan Schoonbee (Werpskyf, Spiesgooi) en Alwyn Ströh (Hoogspring) is besig om na vore te kom. Maar een atleet wat besig is om die oog te vang en onder Mnr Wouter se vlerk besig is om die wêreld aan die brand te hardloop is Simoné van Huysteen. Hierdie 12jarige langbeen het nie net die o/13 Nasionale byeenkoms met ongeveer 10 m in die 75m Hekkies gewen nie maar is ook aangewys as die beste Hekkie atleet in die Hoërskool Ligas waar Mnr Wouter haar laat deelneem het aan die 80m Hekkies. Van daar is sy opgeneem in die Noorde Hoërskoolspan en kom sy by die Nasionale byeenkoms 2de met 'n 0,2s tydverskil tussen haar en die atleet van WHS - vir 'n 12jarige is dit beslis puik en ons verwag om nog baie van haar te hoor.


NTC Privaatskool Atletiek Byeenkoms - 'n Eerste in Namibië
Mnr Buks Bester van NTC het vanjaar besluit om 'n borgskap van N$15 000 te gee om 'n jarelange droom van ons skool te verwesenlik nl 'n eerste Nasionale Atletiek Byeenkoms vir Afrikaanse Privaatskole in Namibië.
Die 10 grootste Privaatskole in Namibië nl Tsumeb Gimnasium, MDPS, Moria, WAP, Gobabis Gimnasium, Gobabis Privaatskool, Hentiesbaai, Excelsior, Elnatan en KPS het toe op 17-18 Oktober in Windhoek bymekaar gekom en vir 2 dae opwindende atletiek beleef.
Gimnasium het weereens sy naam gestand gedoen en behalwe vir puik atlete het almal se bydrae gewys waarom Gimmies die beste is. Van die Gr 8's af wat twee dae voor die tyd in Windhoek begin werk het, tot elke ouer en Direksielid wat tydens die twee dae moes werk asook die onderwysers wat wat items moes beman was almal entoesiasties en op hul pos.
Dit was 'n uitstekende byeenkoms wat nog vir lank op almal se lippe sal wees en gelukwensings stroom letterlik in van alle kante af. Dit bly maar net 'n feit dat die Privaatskole in Namibië weet wat gehalte en organisering is, want elkeen van die 9 ander skole se spanne en spanbestuurders was altyd stiptelik, goed gemanierd en puik afgerig. Ek haal my hoed af vir elkeen van daardie skole en wil net vir hulle sê dat dit 'n eer is om saam met hulle te werk.
Mnr Buks Bester was so in sy noppies oor die byeenkoms dat hy sommer nog N$ 15000 geskenk het vir die kies van 'n NTC - Privaatskolespan om in Potchefstroom SA te gaan deelneem. Nege atlete is op die ou end gekies waarvan Tsumeb Gimnasium 4 in die span het nl Simoné van Huyssteen, Ané Hanekom, Pieter-Jan Schoonbee en Alwyn Ströh.

2002

Ons Hoërskoolspan gaan net van krag tot krag en behaal die 4de plek uit 16 Noorde skole na afloop van die Atletiek Ligas. Volgende jaar gaan ons oins bes probeer om ten minste 3de te eindig. Sewe atlete dring deur tot die Nasionale byeenkms en hoewel ons 5 medaljes terugbring kon ons nie hierdie jaar daarin slaag om iemand in die Nasionale span te kry nie. By die Laerskool gaan dit egter uitstekend en 5 atlete dring deur tot die Nasionale byeenkoms. Hierdie 5 atlete bring 7 medaljes huis toe waarvan 3 goud is. Ons het ook 2 Nasionale kampioene nl. Pieter-Jan Schoonbee en Ané Hanekom. Puik gedoen julle!!

2001

Ons Hoërskoolspan begin 'n faktor raak en eindig 5de van 14 skole. Weereens doen ons atlete so goed dat 8 van hulle in die Noordespan ingesluit word. Hierdie 8 atlete bring nie minder nie as 9 medaljes huistoe, 2 atlete word ook opgeneem in die Nasionale span en Leinard vd Linde en Margaret Nel gaan neem in Zimbabwe deel aan die Afrika Sone 6 byeenkoms.

 

2000

Vanjaar kan ons begin om op gelyke voet met ander spanne in die Noorde Hoërskool Liga deel te neem. Aan die einde van die drie ligas eindig ons sesde uit 14 skole en Lelanie Marais word aangewys as die beste spronge atleet sowel a Junior Victrix Ludorum. Margaret Nel ontvang ook die beker vir die beste Hekkie atleet. Agt Gimmie atlete word in die Noordespan opgeneem en bring 12 medaljes huistoe - voorwaar uitstekend! Ons spog ook vanjaar met ons eerste Nasionale atlete nl. Lelanie Marais en Margaret Nel wat aan die Afrika Sone 6 byeenkoms in die Kaap gaan deelneem. Selfs ons Laerskool presteer pragtig en 3 atlete dring deur na die Nasionale byeenkoms.

1999

Die Driehoeksbyeenkoms van die Laerskole is iets van die verlede en daar word nou ingeval by die staatsopset nl "Regional, Sub-zonal, Zonal en Nationals. Ons Hoërskoolspan, bestaande uit 12 seuns en 12 meisies neem deel aan 'n Noorde Liga maar is nog onervare en ons eindig 8ste van 14 skole. Uitstekende atlete kom na vore.